Sakeplankompetisie

Die Akademia Sakeplankompetisie is ʼn nie-winsgewende inisiatief van Akademia, spesifiek begin met die doel om bestaande, sowel as voornemende besigheidseienaars te help om volhoubaar sake te bedryf. Beide nuwe en voornemende sakelui word uitgedaag om hul besighede op papier te beoordeel aan die hand van ʼn sakeplan, en die kans te staan om pryse ter waarde van meer as 1.5 miljoen rand te wen!

Opleiding- en mentorskap geleenthede bied aan deelnemers die kans om met kenners en mede-sakelui te gesels oor knelpunte in hul eie besighede of sakeplanne, maar help ook die voornemende besigheidsman om reeds van die begin af sy besigheid op die regte beginsels te vestig, om volhoubare voortbestaan te verseker.

So, as jy ernstig is om jou nuwe of bestaande besigheid volhoubaar te groei, en dalk geleenthede en bedreigings raak te sien wat jy nie vantevore aan gedink het, of al van vergeet het van, skryf vandag in!

Uitleg van die 2016-Akademia Sakeplankompetisie

1 Maart tot 20 Julie

Voornemende deelnemers registreer aanlyn op www.sakeplankompetisie.co.za en kies die afdeling waarvoor hulle registreer. Deelnemers ontvang dan 'n e-pos met intekenbesonderhede op die Sakeplankompetisie deelnemersblad. Hier laai hul dan ʼn templaatsakeplan van vyf bladsye af wat hul invul, en dan elektronies indien voor of op die sperdatum van 20 Julie 2016. Inskrywings vind plaas in een van twee kategorieë. Die twee kategorieë is:

Nuwe en Klein Sake-Afdeling :

Dit word gesien as enige nuwe sake-idee wat wissel van splinternuut tot dié wat minder as drie (3) jaar handeldrywend is ten tye van inskrywing, of 'n netto wins voor eienaarsontrekking van minder as R500 000 per jaar het.

Bestaande en Medium Sake-afdeling:

Hierdie afdeling geld vir enige individu of KMO wat vir meer as drie (3) jaar handeldrywend is ten tye van inskrywing, of 'n netto wins voor eienaarsontrekking van meer as R500 000 per jaar het.

25 en 26 Mei

Deelnemers kan kies om een of beide van die twee tipes werkswinkels wat aangebied word, by te woon.

Halfdag Sakeplan werkswinkel:

Vind plaas op 31 Maart 2016 en word weer herhaal op 10 Augustus 2016. Koste vir enige van hierdie twee oggende se bywoning beloop R240 per persoon, en sluit 'n gefasiliteerde sakeplan mentorsessie en ligte verversings in.

Tweedag Sakebestuur werkswinkel:

Die tweedag Sakebestuur werkwinkel / seminaar vind plaas op 21 en 22 Junie . Die koste vir die tweedag Sakebestuur werkswinkel / seminaar beloop sowat R1350 per person, en sluit benewens kos en kursusinhoud, ook beide die individuele en entrepreneurs Gallup Strengthfinder ontleding in.

Beide die werkswinkels word deur Akademia se videokonferensietegnologie by een van Akademia se studiesentrums in Gauteng of die Wes-Kaap aangebied. Hierdie sentrums is geleë in Pretoria, Centurion, Boksburg, Krugersdorp, Vanderbijlpark, Somerset-Wes en Bellville.

21 Julie tot 4 Augustus

ʼn Paneel deskundiges beoordeel die inskrywings aan die hand van vooraf beskikbare kriteria en kies dan 'n maksimum van dertig (30) sakeplanne met die beste potensiaal in elk van die twee kategorieë.

5 Augustus tot 1 September

Met die aankondiging van die semi-finaliste (maksimum 30 in elke kategorie) op 8 Augustus, kry die aangewysde semi-finaliste bykans ʼn maand lank geleentheid om hul basiese sakeplanne in volledige sakeplanne te omskryf. Finale volledige sakeplanne (maksimum 10 bladsye) moet ten laatste voor of op die 4 September 2016 elektronies op die Akademia Sakeplankompetisie deelnemersblad ingedien word. Daar word ook van deelnemers verwag om ‘n twee-bladsy uitvoerende opsomming, asook ‘n tuisgemaakte video van die entrepreneur en sy produk / diens met ‘n maksimum lengte van 3 minute teen hierdie sperdatum in te dien. Die Sakeplan Werkswinkel van 10 Augustus help met die voorbereiding hiervan!

5 September tot 14 September

ʼn Paneel deskundiges beoordeel die inskrywings aan die hand van die vooraf beskikbare kriteria en kies dan vier finaliste in elk van die twee kategorieë. Die agt finaliste dring dan deur tot die finale fase keuring (die Leeukuil) op 26 Oktober 2016.

15 September tot 2 Oktober

Die agt finaliste kry dan die geleentheid om hul sakeplan in ʼn opsomming van vyf bladsye te verpak en finaal in te handig op 14 Oktober 2016. Hierdie finale vyfbladplan word aan die paneel van die Leeukuil versprei. Op 26 Oktober het al agt finaliste dan die geleentheid om tydens die oggendsessie hul sakeplanne in Dragon’s Den-styl aan ʼn beoordeelaarspaneel, belaai met deskundiges, voor te lê. Die wenners in elke kategorie word tydens hierdie sessie bepaal. By die Akademia Sakeplankompetisie se Gala-aand wat dieselfde aand plaasvind, kry die finaliste die kans om die gehoor te beïndruk met ʼn kort aanbieding, waarna die gehoorwenners, asook die algehele wenners, aangekondig word.

Na 26 Oktober

ʼn Proses van mentorskap, aangebied deur die kompetisie se mentorskapvennote, sal die wenners van die mentorskappryse help om hul sakeplanne óf in ʼn volwaardige besigheid te ontwikkel, óf om hul sakeonderneming se uitbreiding te fasiliteer. So word die sirkel gesluit in die strewe om volhoubare sakeondernemings in Suid Afrika te help vestig en uit te bou!

Sake-ontbyte en Werkswinkels

March 14, 2016
Oor die klippe2

Half Dag Sakeplan-
werkswinkel: 10 Augustus

March 10, 2016
GeeMyStoom2

Tweedag Sakebestuur Werkswinkel: 21 en 22 Junie

[…]
March 2, 2016
sake-ontbyt

Akademia Sake-Ontbyte

Borge en Vennote